XS 800 – for mowers, motor bikes or jet skis – CTEK SWEDEN AB.
XS 800 – for mowers, motor bikes or jet skis – CTEK SWEDEN AB
Posted: 12 April 2011 in Hier en daar en oraloor ...Facebook, somtyds hou ek daarvan, ander kere minder …
Posted: 24 Maart 2011 in Hier en daar en oraloor ...Wat dra jy op jou kop?
Posted: 22 Maart 2011 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
Muzungu se nemesis …
Posted: 22 Maart 2011 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
Meestah! Meestah! – Meestah! Meestah! – die skakelmeganisme wat my brein in ‘n rat skop waarin hy kreatief dinge begin bedink soos moord, doodslag en lelik seermaak. Seermaak of doodmaak soos in nekomdraai voortspruitend uit die magtelose frustrasie van die situasie wanneer die gebruiker van die gewraakte woorde net aanhou en aanhou sonder ophou, ure en ure en dae en weke en maande aaneen. Dag vir dag. ‘n Marteling op sy eie en onverstaanbaar vir die res van die wêreld wat sou gedy op die oomblik van kalklig waarin dit geplaas sou word wanneer die aandag wat gegee word slegs nog in die eerste fase van aandag gee is. Wat na ‘n paar maande genoeg is om enigiemand tot ‘n totale raseny te dryf, en wat ‘n andersins normale mens soos ek aan die skryf laat gaan oor goed soos hierdie en omdat moord en doodslag ‘n net te maklike manier is om met die probleem om te gaan.
Fase twee skop in sodra die roeper van Meestah! Meestah! sy slagoffer se aandag op hom gevestig gekry het. Tesame met die een hand wat uitgesteek word, word die voorvingers teen mekaar gevryf in aanduiding dat die verwagting gepaard gaan met ‘n monitêre prestasie van die een of ander aard.
Vir die kinders van die Kongolese, of Mawushi, soos hulle in Swahili bekend is, is dit die standaard groet waarmee enige Muzungu of Matokka, (wit man in Swahili), begroet moet word. Of hulle spesiaal geleer word om dit te doen en of dit van nature in hul aard is om mense so te groet, sal net die Mawushi weet. Ek stel regtig nie belang om uit te vind wat die eintlike bron van hierdie irritasie is nie.
Ander maniere om die aandag op hulle te vestig sluit in ‘n oordrewe “Good morning mister!” of iets dergeliks, altyd met die oog op die volgende aksie van geld vra. “Letta Makuta!” “Give me money” “Give me your money!” “Give me my money!” Dis om van siek te word.
Wanneer die mense beleefd gegroet word, en hier sluit ek van die volwassenes in, word gerieflikheidshalwe sommer van die eerste fase vergeet en beskou die Mawushi jou groet as ‘n openlike uitnodiging om dadelik oor te gaan na fase twee. Dit hoef ook nie noodwendig gegroet te word nie, enige aandag, positiewe-, sowel as negatiewe aandag is aandag en dit word ewe entoesiasties begroet deur die Mawushi wat dadelik in fase twee optree.
Ek kan verstaan as iemand nie kos het om te eet nie, hy vir kos sou vra, as hy nie klere het nie, hy sou vra vir iets om aan te trek. Hierdie ouens vra net geld. En dit in ‘n land waar die geld eintlik minder as niks werd is nie, en daar ook nie eintlik iets is wat hy kan koop met watse geld ookal nie. Dan is van hulle maar drie- of vier jaar oud. Wat wil ‘n kind van drie, vier met geld maak?
Die Muzungu word oral genadeloos agtervolg en aangestaar soos diere in ‘n kou waar hy hom ookal bevind net om deur hierdie breinterroriste aangeval te word sodra enige aandag lyk of dit in die rigting van die Mawushi gaan kom. Praat help nie, wegjaag help nie, hulle kom net weer en weer, soos ‘n golf wat jou naderhand so verswelg dat normale denke nie meer moontlik is nie. Wanneer frustrasie oor jy eintlik maar net ‘n vreemdeling in hul land is en nie eintlik iets aan hulle of die situasie kan doen nie, jou summier laat omdraai om ‘n stil en veilige wegkruipplekkie te gaan soek.
Kongo, Demokratiese Republiek van die …..
Posted: 19 Maart 2011 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
Kongo. Die Kongo. Demokratiese Republiek van die Kongo, voorheen Zaïre en ‘n paar ander name soos die plek oor die laaste jare heen geheet het.
Lubumbashi, Likasi, Luena, Kamina, Mwene-Ditu, Kananga en Mweka, algar deel van die enigste spoorverbinding tussen die noordelike deel en die suidelike deel van die derde grootste land in Afrika. Dis waar ek my nou al vir die laaste sewe maande bevind en ook die gedeelte van die land waarmee ek bekend is. Paradys plek-plek en regte “jungle” oraloor. Afrika – jungle. Die soort jungle waarvan mens in Tarzan se eskapades, Die Skim en Lion King sien. Ek werk as ‘n lokodrywer vir ‘n Suid-Afrikaanse firma wat lokomotiewe en treinpersoneel uitkontrakteer aan die Kongolese regering om hul spoorlyn in bedryf te probeer hou. My waarnemings soos hier beskryf word gedoen met die bostaande gedeeltes van die land as verwysingsraamwerk. Waar ek na van die land se mense verwys, is dit nie ‘n veralgemening nie, aangesien ek hier regtig ‘n paar skerp ouens raakgeloop het, van hulle in ‘n mindere of meerdere mate erfgename van al die slegte gewoontes van hul mede landsburgers.
Miskien is my woordkeuse dalk nie heeltemaal reg nie, maar presies wat ons probeer doen, is om te probeer om die spul aan die gang te hou. Dis nie aldag ‘n maklike taak nie. Alhoewel ons lokomotiewe maklik tweekeer so sterk is as die wat die Kongolese het, en hulle in ‘n baie beter meganiese toestand is as die Kongolese lokomotiewe, gaan dit met ons maar amper net so moeilik as met die Kongolese want die vragte wat ons sleep, word so oorlaai en die half toegegroeide spoorlyne maak dit ‘n geweldig moeilike taak om met enige vrag oor die weg te kom. Verail in die reënseisoen.
Dan is die spoorverbinding ook nog die plaaslike bevolking se enigste manier van oor die weg kom, wat tot gevolg het dat elke trein wat iewers heen beweeg, gepak word van mens en dier en hul bagasie en voorraad kos vir hoe lank ‘n rit ookal mag duur. Die mense, honde, bokke en varke ry, tesame met 100kg sakke, mielies of meel of Kasawa wortel, bo-op die treintrokke. Sommige vir letterlik honderde kilometers ver.
Aangesien geen geskeduleerde treindiens bestaan nie, word partykeer tot ‘n paar uur per keer deurgebring op een plek sodat daar gewag kan word vir ‘n ander trein wat gekruis mag word. As so ‘n trein om een of ander rede dalk vertraag sou word, is dit niks snaaks om tot 24 uur op een plek deur te bring nie.
Die spoed wat ons met die treine mag ry, word bepaal deur die toestand van die spoorbaan, wat kan wissel van 10km per uur tot soveel as 50km per uur. Laasgenoemde natuurlik ‘n uitsondering en eersgenoemde die reël. Van die Kongolese cowboys dink egter niks daarvan om sommer maklik tot 80 km/h te ry op sommige gedeeltes nie.
Onderhoud van die spoorbaan is so skraps soos onderhoud op die plaaslike lokomotiewe, wat wissel van bykans niks tot heeltemaal niks. Om dus gereeld te doen te kry met trokke wat van die spoor klim, is dus niks snaaks nie.
Dit lyk nie vir my asof die plaaslike bevolking bewus is van hul eie onlangse geskiedenis nie. Dit lyk nie asof hulle weet van die Belgiese sendelinge wat so wreed deur hul eie mense vermoor is in 1964 nie en die daaropvolgende redding van die oorblywende Belgiese burgers uit die land deur huursoldate nie. Of miskien wil hulle nie daarvan weet nie.
As enigiemand dalk dink dat die Kongolese baie vriendelike mense is oor die eerste indrukke wat geskep word, sit hy die pot heeltemaal mis. Een en almal het die vermetelheid om jou aandag te probeer kry deur vriendelik te groet of watter manier ookal, net om daarna sy vingers teen mekaar te vryf op soek na geld.
Waag dit om iets te eet of drink en jy word verpes om dit te deel – deel dit nie en jy word in die openbaar as selfsugtig uitgeskel.
In stede daarvan om uit te spring en iets omtrent hul eie omstandighede te doen, het die gemiddelde Kongolees, of so kom dit my voor, besluit om maar eerder bakhand te staan en ‘n deel van alles wat sy oë sien, te eis. Miskien is die probleem dat die gemiddelde Kongolees te gewoond daaraan is om te ontvang dat dit al is wat hy nou wil doen. Aan die ontvangkant staan.
Wat hulle blykbaar nie verstaan nie, is dat ons na die Kongo toe gekom het om self iets ekstra bymekaar te maak, nie om te kom uitdeel aan hulle nie. Ons is nie filantrope nie, ook nie die Wêreldbank of Verenigde Nasies nie.
Die land waarin die mense woon, is maklik een van die mooiste dele in die wêreld en beslis een van die vrugbaarste. Dog hier is geen sprake van landbou nie. Saad word nie plaaslik gekweek nie en die Kongolese is afhanklik van saad wat deur skenkings aan hulle bewillig word. Slegs akkerbou word toegepas en waar die land die potensiaal het om werklik ‘n kosmandjie vir Afrika te wees, kan dit skaars in die voedingsbehoeftes van sy eie bevolking voorsien. ‘n Bevolking wat totaal buite beheer, ongekontroleerd en onrusbarend aan die aanwas is, en wat, as hulle aanhou vermeerder soos nou, redelik binnekort, (binne tien jaar?), ‘n krisis gaan ervaar wat baie maklik in ‘n burgeroorlog of nog ‘n etniese suiwering kan ontaard soos ons ook alreeds gesien het hier kan gebeur.
Die politieke stabiliteit in die land kan op die oomblik as redelik bestendig beskou word. Na die koloniale bewind oorgegee is na die plaaslike bevolking en ‘n geslag grootgeword het onder diktatoriale regerings wil dit lyk asof ‘n paar jaar van kalmte eindelik aangebreek het. Na die moord op Laurent Kabila deur sy eie lyfwag, en die daaropvolgende aanstelling en verkiesing waarin Joseph Kabila beheer geneem het van die plaaslike regering het ‘n voorheen onbekende bestendigheid in die land begin. Hoe hierdie bestendigheid in die toekoms deur die huidige bevolkingsgroei nog be-invloed gaan word, moet nog gesien word.
Die spoorverbinding wat so te sê van noord na suid deur die land, wat byna twee keer so groot soos Suid-Afrika is, loop, word aangevul deur plaaslik vervaardigde veerbote en uitgeholde boomstompe wat op van die land se bevaarbare riviere gebruik word waarvan daar ‘n hele paar is. Paaie bestaan slegs in die verbeelding en met ‘n baie goeie viertrekvoertuig behoort mens iewers te kan kom alhoewel ek al van mense wat die Kongo met fietse probeer aandurf het, verneem het dat sommige dele net geheel en al nie deurganklik is vir voertuie van enige soort nie.
Plaaslik sien mens nie baie motorvoertuie nie. Oral is daar maar iemand met ‘n ingevoerde tweedehandse Japannese minibus of ander vierwielaangedrewe voertuig maar hulle vorm ‘n klein minderheid. Indies vervaardigde Bajaj motorfietse word as taxi’s aangewend en ‘n groot klomp ander Indiese en Chinese modelle word oral gesien. Almal in die 125 tot 150cc klas. Terwyl daar aan die regterkant van die pad gery word, gebruik veral die taxiryers enige deel van die pad as ryvlak met behulp van sy fiets se toeter. Die kakofonie van ‘n hele spul van hierdie taxi-fietse se toeters maak deel uit van elke gemeenskap se alledaagse daaglikse geluide en na ‘n tyd raak mens dit ook gewoond en ook bedag daarop om uit hulle pad te bly. Maar baie soos die minibustaxi’s in Suid-Afrika.
Goedere wat in die Kongo aangekoop kan word kom meestal uit China terwyl blikkieskos byvoorbeeld weer meer vanuit Europa en die Verenigde Arabiese Emirate afkomstig is. Ek het ook al heelwat goed soos pastas en koekies gesien wat vanaf Indië kom. Heelwat van die produkte kom ook uit Suid-Afrika, meestal in klein verpakkings. Moenie dink jy koop ‘n groot pak goed om op die hoeveelheid te bespaar nie, die Kongolese winkeliers werk die prys per individuele item uit en jy betaal daarvolgens. Elkeen vra ook vir sy produkte wat hy wil. En alles is duur. Die wet van Transvaal het sy inslag hier in die Kongo gekry. Buitelanders is natuurlik ook die prooi van ieder en elk en as jy nie waaksaam genoeg is nie, word jy maklik sommer ‘n paar keer per dag sleg ingeloop. Ek het al heelwat geld verloor op die manier. Hierdie ouens voel vere vir jou en as hy eers jou geld in sy hande het, is daar nie ‘n manier om dit terug te kry nie. Jy neem ook nie goed waarmee jy nie gelukkig is terug nie. Hulle is ook traag om enige kleingeld te gee en gee dan ook gewoonlik nie die regte bedrag nie. Dis vir jou om self seker te maak dat jy nie ingeloop word nie. Jy betaal as buitelander ook baie meer vir enigiets as eninge van die plaaslike bevolking.
Om enigsins in die dorpe te loop om te gaan inkopies doen, raak baie gou ‘n totale nagmerrie want jy word deur van hierdie Kongolese kinders agtervolg so ver as wat jy gaan. Almal wil jou graag help dra en help net waar hulle kan, teen betaling natuurlik.
Sou jy op soek wees na ‘n spesifieke item, soek dit self, die ou wat sulke goed verkoop en tydelik uit voorraad is, gaan jou nie wys waar om dit wel te kry nie, enigiemand anders verwag betaling vir sulke hulp.
Meeste winkels hou maar so om en by dieselfde goed aan en dis nogals ‘n storie om eers uit te vind waar mens als kan kry wat jy nodig het.
Sommige goed is geheel en al nie hier beskikbaar nie, terwyl ander weer vir maande nie in enige winkel bekombaar is nie. Ek was byvoorbeeld meer as ‘n maand in die Kongo voor ons eers iets soos peper kon koop. Ander speserye soos kerrie het hierdie mense nog nooit van gehoor nie. Tuna het ek eenkeer in Kamina twaalf blikkies van kon kry en ingelegde herring eenkeer in Kananga. En ek lus kerrievis wat onbekombaar is.
Die Chinese het nogals ingeklim met hul goedkoop selfone, elektriese ware, klere en materiale. Chinese sandale of plakkies word deur almal gedra en dis maar net hier en daar wat mens iemand met skoene aan sal sien. Ook maar gewoonlik van chinese afkoms.
Die teenwoordigheid van polisiemanne en soldate oral, almal gewapen met of AK-47′s of Uzi’s, maak dat mens redelik veilig voel en ek weet nie van iemand wat al aangeval en beroof en/of aangerand is hier nie. Selfs nie waar daar laataand op straat uitgegaan is nie.
Iets wat in die begin, en nou nog, vir my uitstaan soos ‘n seer vinger, is die gebrek aan begraafplase. Enigste wat ek nog gesien het was net noord van Mwene-Ditu waar daar ‘n paar opgemaakte grafte langs die spoor is. In Lubumbashi is blykbaar ook ‘n grote en ook, een in Likasi. Volgens ek verstaan, word die dooies maar meestal sommer so rondom die huise begrawe. Ek het ook nog nie iewers ‘n begrafnisondernemer gesien nie. So wat die rekordhouding oor die sterftes en geboortes van die bevolking aanbetref, dink ek dat sensusopnames nie heeltemaal korrek kan wees oor die streek nie.
Die plaaslike behuising bestaan uit sulke vierkantige tipe huisies wat met plaaslik gemaakte bakstene gebou is. Die bakstene word sommer so op die perseel gemaak, in oondvorm gepak en dan gebak voor dit met messelklei vorm kry as nuwe tuiste vir nog ‘n Kongolese gesin. Dakbedekking bestaan uit plaaslik verkryde takke en gras. ‘n Kleiner weergawe van die huis staan gewoonlik in die tuin en ek neem aan dat dit die toilet moet wees maar het nog nooit iemand in een gesien ingaan of uitkom nie, meestal is hulle ook oop voor so mens sou kan sien of dit gebruik word of nie. Lyk my hulle word maar net in uiterste noodgevalle gebruik.
Die fiets is blykbaar maar die donkie van die Kongo, want dit word vir alle plaaslike vervoerbehoeftes ingespan. Al die fietse se stuurmeganismes word so verander dat die handvatsels baie hoog sit. Ek het al rondgevra hieroor en die ouens reken dat dit so gedoen word sodat die ryer nie vooroor hoef te buk om die fiets te ry nie en sodoende ‘n goeie postuur handhaaf. Die fietse word in elk geval so oorlaai dat die ryer daarvan meeste van die tyd langs die fiets moet loop en dit stoot so miskien stoot die fiets makliker met die hoër handvatsels. Sal nie weet nie, maar dit lyk maar vir my na ‘n taamlik gevaarlike spulletjie, veral in ag genome die kru sweiswerk wat ek al gesien het hier gedoen word.
Wat nie met ‘n fiets aangery word nie, word op die mense se koppe gedra. ‘n Stuk lap word in so ‘n ronde bol gedraai, op die kop gesit en dan dra die persoon maklik tot seker sy eie gewig, of baie naby daaraan, so op die kop.
Ons het nou al pynappels, papajas, piesangs, mangos, grondbone, meel, brood, broodrolle en ‘n verskeidenheid ander goed so van die mense se koppe gekoop wanneer hulle so langs die trein af paradeer met hulle ware wat dan maklik waarneembaar is van bo in die lokomotief waar ons sit en meer so vir die ouens wat bo-op die trokke is. ‘n Plaaslike gereg, Bokari, bokvleis en pap, word ook so op die kop gedra en verkoop, gewoonlik word daar dan ook eetgerei soos borde en bekers saamgepiekel met so ‘n smousery.
Diere is nogals redelik skaars in hierdie deel van die wêreld aangesien alle wild wat hier was ook maar uitgeroei is in die sestiger jare soos in sovele ander dele van Afrika. Die plaaslike mense hou maar so hier en daar ‘n bok aan, ek het al ‘n paar verdwaalde skapies gewaar en hier en daar ‘n vark. Hoenders en eende verteenwoordig die geveerde spesie en ek het al kalkoene gesien. Goed soos perde, donkies en beeste is hier nie, en die slaghuise is maar uiters een of twee dae per week oop wanneer hule vleis het om te verkoop. Mens moet nie te kieskeurig wees met die aankoop van vleis hier nie. Niemand hier het al van ‘n ding soos ‘n vleissaag gehoor nie en alle vleis word met ‘n byl opgekap so beensplinters kry jy oral in jou vleiskooksel as jy nie versigtig is nie. Vleis hier moet eers vir ten minste ‘n uur in ‘n stoompot gekook word om dit sag en eetbaar te kry. Dit geld ook vir hoendervleis, wat taaier as leer kan wees.
Apteke kry mens oral, party plekke sit die een sommer langs die ander en die medisyne is spotgoedkoop. Meestal generiese produkte maar ek vermoed dat groot klompe daarvan maar kom van skenkings vanuit die buiteland. Ek het ook oral stalletjies gesien wat tweedehandse klere verkoop.
Die mans in die Kongo gee meestal nie om wat hulle dra vir klere nie, maar dit lyk of die vrouens redelik gesteld is daarop om vir hulle ordentlike lang rokke te laat maak van helderkleurige materiale met pofmoue en al wat tierlantyntjie is. Materiaal wat oorbly van so ‘n rok, eindig, so lyk dit my, gewoonlik in ‘n hemp vir die man of kinders of selfs in ‘n kleiner rokkie vir ‘n dogtertjie. Dis niks snaaks om ‘n hele gesinnetjie te sien loop met almal ‘n kledingstukkie aan wat iewers ‘n spatseltjie van dieselfde roksmateriaal as ma se rok het nie.
Die personeel van SNCC, (Societe Nationale des Chemins de fer du Congo), die plaaslike spoorwegmaatskappy, kan uitgeken word aan hul helderkleurige geel oorjasse of oorpakke en/of gumbootse wat saam met alles gedra word.
Die Kongolese is meestal maer mense, behalwe hier en daar ‘n ou wat al lank in die diens van SNCC is. Hulle is ook van die enigste vet mense wat ek hier opgemerk het. Terloops, ek het self seker al van ‘n goeie vyftien kilo’s ontslae geraak vandat ek hier beland het.
Die ekstra gewig wat ek saamgedra het, het maar so ongemerk weggesmelt in die redelik ondraaglike hitte wat maklik enige dag tot vyf grade warmer kan wees as wat ek aan gewoond is in Durban. Oor dit so baie reën hier, is die humiditeit ook vrek hoog wat die aanvoelbare temperatuur dus aansienlik opstoot. As mens aan Durban se klimaat gewoond is, is dit nie te erg nie, maar ek kry die arme ouens wat uit Transvaal hier beland nogals jammer, geen wonder hulle kan nie sonder lugreëlaars en/of waaiers oor die weg kom nie.
Ek is nie een van julle nie, en ook nie een van hulle nie …
Posted: 13 Maart 2011 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
Daar is net sestien onse in my pond en wanneer ek sê dat ek nie een van julle is nie, en ook nie een van hulle nie, bedoel ek presies net dit.
Meningsvormers en opiniehouers is baie geneig om almal wat nie met hul sienswyse saamstem nie, en nie hul uitkyk op die lewe deel nie, uit te maak as deel van die opposisie waarmee hulle te doen het. Deel van die euwel wat hulle vir hulself as ‘n euwel daargestel het, en wat nooit as te nimmer enigsins enige deel van hul lewens sal wees nie.
Bedoelende, as ek rook, en jy nie, is jy besig om iets vreeslik verkeerd te pleeg, of andersom, as jy rook, en ek nie, is jy ook verkeerd, want net ek kan reg wees. Jy is altyd verkeerd, volgens my.
So nou soos ek met die mense om my in die Kongo mee saamlewe, so moet ek saam met hierdie mense se verwronge idees saam lewe. Dan wil ek myself ook nie uitsluit wat dit aanbetref nie, want ek is nou besig om presies dieselfde te doen. Om my in dieselfde kring te skaar van hulle doen dit, of hulle doen dat, en dis volgens my verkeerd. Ek doen dit, of ek doen dat, en dis volgens hulle verkeerd.
Die neutraal bly in en om alles lyk of dit die moeilikste van alles is. Hoe hanteer jy ‘n elke dag se geteem van iemand wat ‘n probleem het daarmee dat daar ook mense met ‘n ander kleur vel as jy/hy/sy dieselfde aarde bewandel, en hoe hanteer jy die veroordeling van iemand wat dink hy/sy is op die een of ander manier ‘n beter voorbeeld van die homo-sapiens–spesie as die res van die aarde se bevolking nie?
Hoe hanteer jy mense wat met hul bybel onder een arm sweer dat slegs hul god, en slegs hul god alleen, die enigste oplossing is vir ‘n wêreld waarin daar onder meer soveel as tot veertigduisend verskillende christelike denominasies alleen is? Hoe bly jy staande en hoe behou jy jou eie lewensuitkyk sonder om onbehoorlik be-invloed te word deur sulke selfsugtige en eie-behepte sienings. Meer nog, hoe lewe hierdie mense met hulself saam?
Nog oor my Kongo werk …
Posted: 1 Maart 2011 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
Ek is sedert verlede jaar September werksaam in die Demokratiese Republiek van die Kongo, of sommer DRK of Kongo, en sal eers weer teen middel Mei terug wees in Durban.
Eerste gewaarwording hier was dat dit kompleet lyk asof die beskawing die plek so vyftig jaar gelede net so gelos het om maar te vergaan onder leiding van die plaaslike bevolking. Nadat ek die rolprent Africa Addio gesien het, het ek eers besef hoe na aan reg ek was met my eerste indrukke. Dis so ongeveer presies wat in hierdie land gebeur het.
Die lokomotiewe van die plaaslike spoorwegmaatskappy, SNCC, is in ‘n erg haglike toestand en die arme mense sukkel maar om enigiets vervoer te kry aangesien daar nie eintlik sprake is van ‘n padvervoerstelsel of enige ander manier van vervoer nie. Paaie bestaan feitlik nie. Die spoorlyn waarop die maatskappy waarvoor ek werk hul kontrakte bedryf, is so te sê die enigste verbinding tussen die noordelike en suidelike deel van die land waar daar baie minder bevaarbare riviere is in vergelyking met die meer noordelike deel van die land.
Luano Internasionale Lughawe Lubumbashi.
My eerste dag in die Kongo, hier saam met Sam Kabunda, ‘n kollega by ‘n ou stoomlokomotief in die middel van Lubumbashi. In die agtergrond is nog ‘n diesel- en ‘n elektriese lokomotief asook die stasiegebou van Lubumbashi sigbaar.
Hallo wêreld!
Posted: 17 February 2011 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
Pos ek vanoggend met Live-writer vir die eerste keer in ‘n lang tyd iets op my blog om te sien of alles nog werk en kom toe later agter dat ander veranderings wat ek gemaak het, die pos op facebook laat verskyn. Om te sien wat nou eintlik aangaan, probeer ek toe op die blog ingaan, net om uit te vind dat daar ‘n grootskaalse migrasie aan die gang is om alles op WordPress te kry. Nou goed dan, hier is ons, met die hele boksemdaais oorgetrek en wie weet wie almal kan sien wat ek hier kwytraak. Maak nie saak nie, sal maar probeer om op nie te veel tone te trap nie.
Chris.
Hierdie keer, so hoop ek, is die rede vir my lang wegbly van die blog meer aanvaarbaar. Ek sit naamlik in die DRK, Demokratiese Republiek van die Kongo, vir die afgelope ses maande en het nou vir die eerste keer behoorlik op die internet kon kom. Stadig en sporadies, maar darem. As jy my op facebook volg, sal jy weet dat ek van werkgewer verander het en nou in die diens van Sheltam se buitelandse afdeling in die Kongo werk. Sal probeer om te iets oor hierdie interressante deel van my lewe hier weer te gee, en sodra ek sien dat hierdie pos na die blog reg werk, kyk of ek bietjie meer kan uitbrei en dit dan verder probeer neem.
Chris
Skaars, skaarser, skaarsste …
Posted: 1 Augustus 2010 in Hier en daar en oraloor ...Tags: Hier en daar en oraloor ...
As ek my kom kry, het daar alweer ‘n jaar of meer verloop sedert ek laas iets hier geplaas het. Net ekself is hiervoor te blameer, maar die enigste kere wat ek wel hier uitkom, is wanneer ek regtig niks anders het om te doen nie. Die sokker wêreldbeker wedstryde is almal klaar gespeel, en ek het intussen van werk verander. Bly nog vir ten minste die volgende jaar op dieselfde plek, maar gaan aanstons in die Demokratiese Republiek van die Kongo werk. Vir die laaste drie weke sit ek tuis en wag sodat die kaboese en lokomotiewe, waarmee ons na die Kongo gaan, klaar voorberei kan word. Wat my nou weer hier uitgebring het. Hopelik gaan dit nie weer ‘n jaar neem nie. Ek plaas ‘n paar foto’s van die lokomotiewe en kaboese net om iets hier op te kry.
